Meer oor ons
’n Trotse Afrikaanse laerskool wat die gemeenskap van Vryheid al byna ’n eeu lank dien.
Geskiedenis van Lucas Meyer Primêre Skool
Lucas Meyer Primêre Skool (LMS) is deel van die geskiedenis van Vryheid in KwaZulu-Natal. Lucas Meyer was die destydse president van die "Nuwe Republiek", wat deur die destydse boeremagte van die Zulu's bekom is. Maar die skool het nie altyd as Lucas Meyer Primêre Skool bekend gestaan nie.
LMS se deure het vir die eerste keer op 28 Januarie 1930 geopen as "Vryheid Government Infant School." Die eerste skoolhoof was mev. E.H. Müller en op hierdie skooldag het 214 leerlinge ingeskryf.
Gedurende 1947 verander die skool se status van ’n junior skool na "Government Primary School – Vryheid". Op 24 Januarie 1949 verwys die naam vir die eerste keer na Lucas Meyer, naamlik Lucas Meyer Staatskool.
As opvoedingsinrigting bou Lucas Meyer dus voort op ’n trotse verlede en word die gemeenskap van Vryheid gedien deur ’n inrigting met die ideaal om vanuit ’n Christelike perspektief alle sake aan te pak. Baie waarde word geheg aan die skool se Afrikaanse karakter, terwyl daar op ’n aktiewe wyse uitgereik word na skakeling met skole wat hoofsaaklik ander kultuurgroepe bedien.
Vir die afgelope paar jaar handhaaf die skool ’n leerlingtal wat wissel tussen 550 en 700 leerlinge.
Uit die skooljoernaal
Die eerste hoofonderwyseres, mej. E.H. Müller, teken in die joernaal aan dat die "Vryheid Government Infants" School op 28.01.1930 betrek is. Op 19.02.1930 word hierdie nuwe skool amptelik geopen deur die Administrateur van Natal, mnr. H. Gordon Watson. Hy het ook genoem dat die skool, wat uit slegs sewe klaskamers bestaan het, ’n bedrag van 5 000 pond (R10 000) gekos het om op te rig. Mej. Müller voltooi haar diens op 30.06.1940 en word opgevolg deur mej. C.S.F. Conradie. In 1946 word St. 2 in die Afrikaansmedium bygevoeg. Op 04.10.1946 bedank mej. Conradie om in die huwelik te tree.
Mej. E. van der Spuy aanvaar hierna diens as hoof aan die begin van 1947. Aan die begin van hierdie jaar word ook St. 3 in Afrikaansmedium bygevoeg. Aangesien die status van die skool verhoog het, staan dit nou bekend as "Government Primary School", Vryheid. Die nuwe klaskamers wat gedurende 1948 aangebou is, word in gebruik geneem. Dit is ook in hierdie jaar dat die Juniorkoshuis geopen word. Mej. van der Spuy beëindig haar dienste aan die einde van 1948. Op 24.01.1949 aanvaar mnr. H.C.J. van Rensburg diens as hoof en in Maart betrek hy die amptelike skoolhuis. Op 03.07.1954 word hy opgevolg deur mnr. G.C.H. Jacobs. Die skool heet nou "Lucas Meyer Government School".
Gedurende 1955 word die skool se vyf-en-twintigjarige bestaan gevier. Op 15.09.1955 word ’n geslaagde konsert in die Empire-teater gehou. Dit blyk volgens die skoolrekords asof ’n groen skoolrok vir die dogters in 1956 ingestel is. Mnr. J.A.S. Erasmus word waarnemende hoof, aangestel vanaf 21.01.1957. Mnr. Erasmus word op 23.07.1957 permanent aangestel en tree met pensioen af op 31.12.1959. Hy word deur mnr. W.S. Vosloo opgevolg. Vanaf 1972 word daar nie meer voorsiening gemaak vir Engelse klasse nie. Mnr. Vosloo tree op 31.12.1973 af.
Mnr. F.S. le Roux word op 01.01.1974 as nuwe hoof aangestel. Die nuwe skooldrag vir seuns, om die kakiehemp en -broek te vervang, word ingestel en is vanaf begin 1975 reeds in gebruik. Die veranderde wapen met nuwe leuse — Werk en Groei — word in gebruik geneem tydens die vyftigste bestaansjaar van die skool. Die geleentheid is op 19 Februarie 1980 gevier. By die skoollied was betrokke: mnr. Volker, me. B. Rousseau, me. C. Loubser en me. D. Coetzee. Op 10.11.1981 word begin om die koshuis op te gradeer en die voltooide koshuis word op 16.01.1983 in gebruik geneem. Die nuwe skoolsaal en dubbelverdieping Fase 1-klaskamers word vanaf 05.08.1983 betrek. Die amptelike ingebruikneming van die geboue vind plaas op 19.10.1984. Mnr. le Roux tree op 31.08.1993 af.
Die skoolhoof mnr. J.P. Coetzee word op 01.01.1994 aangestel. Gedurende 1994 word die koshuis uitgebrei en opgeknap. Die rekenaarlokaal is op 22.07.1996 gereed vir gebruik. Volwaardige opedae met uitstallings word vanaf 1996 in die skoolsaal aangebied. Lucas Meyer slaag die amptelike departementele skoolevaluering met vlieënde vaandels in 2004. Aan die einde van 2004 word hard gewerk om die Gr. R-klas gereed te kry en op 19.01.2005 word die klas in gebruik geneem. Deurlopend in 2005 word die vyf-en-sewentigjarige bestaan van Lucas Meyer Skool gevier.
In 2010 vier die LMS'ers die tagtigste verjaardag saam met oud-skoolhoof mnr. le Roux. In Januarie 2016 word mnr. R. Kritzinger as skoolhoof aangestel. Die kleuterskool kry nuwe dakke, die senior fase se badkamers word oorgedoen, die saal kry ’n nuwe gesig en die skool kan weer ’n skoolbussie aanskaf wat daagliks leerlinge van Paulpietersburg en die omliggende area vervoer.
In Maart 2020 word die huidige skoolhoof, mnr. P. Aucamp, aangestel. Die skool se 90ste verjaardag word op ’n gepaste wyse gevier, met mnr. le Roux en sy vrou weer as eregaste, saam met mev. Annatjie Odendaal en mej. Johanna Botha. 2020 was ’n vreemde jaar met Covid-19 wat ’n groot deel van kwartaal 2 oorheers het en die hele land in grendeltyd geplaas het.