Geskiedenis van Lucas Meyer Primêre Skool
Lucas Meyer Primêre Skool (LMS) is deel van die geskiedenis van Vryheid in KwaZulu Natal. Lucas Meyer, was die destydse president van “Nuwe Republiek”, wat deur die destydse boeremagte van die Zulu’s bekom is. Maar die skool het nie altyd as Lucas Meyer Primêre Skool bekend gestaan nie.
LMS se deure het vir die eerste keer op 28 Januarie 1930 geopen as “Vryheid Government Infant School.” Die eerste skoolhoof was Mev. E.H. Müller en op hierdie skooldag het 214 leerlinge ingeskryf.
Gedurende 1947 verander die skool se status van ‘n junior skool na: “Government Primary School – Vryheid”. Op 24 Januarie 1949 verwys die naam vir die eerste keer na Lucas Meyer, nl. Lucas Meyer Staatskool.
As opvoedingsinrigting bou Lucas Meyer dus voort op ‘n trotse verlede en word die gemeenskap van Vryheid gedien deur ‘n inrigting met die ideaal om vanuit ‘n Christelike perspektief alle sake aan te pak. Baie waarde word geheg aan die skool se Afrikaanse karakter, terwyl daar op ‘n aktiewe wyse uitgereid word na skakeling met skole wat hoofsaaklik ander kultuurgroepe bedien.
Vir die afgelope paar jaar handhaaf die skool ‘n leerlingtal wat wissel tussen 550 en 700 leerlinge.
Die eerste hoofonderwyseres, mej. E.H. Müller, teken in die Joernaal aan dat die “Vryheid Government Infants” School op 28.01.1930 betrek is. Op 19.02.1930 word hierdie nuwe skool amptelik geopen deur die Administrateur van Natal, mnr. H. Gordon Watson. Hy het ook genoem dat die skool, wat uit slegs sewe klaskamers bestaan het, ‘n bedrag van 5000 pond (R10000) gekos het om op te rig. Mej. Müller voltooi haar diens op 30.06.1940 en word opgevolg deur mej. CSF Conradie. In 1946 word St.2 in die Afrikaansmedium bygevoeg. Op 04.10.1946 bedank mej. Conradie om in die huwelik te tree.
Mej. E van der Spuy aanvaar hierna diens as hoof aan die begin van 1947. Aan die begin van hierdie jaar word ook St.3 in Afrikaansmedium bygevoeg. Aangesien die status van die skool verhoog het, staan dit nou bekend as “Government Primary School”, Vryheid. Die nuwe klaskamers wat gedurende die jaar 1948 aangebou is, word in gebruik geneem. Dit is ook in hierdie jaar dat die Juniorkoshuis geopen word. Mej. Van der Spuy beëindig haar dienste aan die einde van 1948. Op 24.01.1949 aanvaar mnr. HCJ van Rensburg diens as hoof en in Maart betrek hy die amptelike skoolhuis. Op 03.07.1954 word hy opgevolg deur mnr. GCH Jacobs. Die skool heet nou “Lucas Meyer Government School”.
Gedurende 1955 word die skool se vyf en twintig-jarige bestaan gevier. Op 15.09.1955 word ‘n geslaagde konsert in die Empire Teater gehou. Dit blyk volgens die skoolrekords asof ‘n groen skoolrok vir die dogters in 1956 ingestel is. Mnr. JAS Erasmus word waarnemende hoof, aangestel vanaf 21.01.1957. Mnr. Erasmus word op 23.07.1957 permanent aangesteel en tree met pensioen af op 31.12.1959. Hy word deur mnr. WS Vosloo op 31.12.1973 opgevolg. Vanaf 1972 word daar nie meer voorsiening gemaak vir Engelse klasse nie. Mnr. Vosloo tree op 31.12.1973 af.
Mnr. FS le Roux word op 01.01.1974 as nuwe hoof aangestel. Die nuwe skooldrag vir seuns om die kakiehemp en broek te vervang, word ingestel en vanaf begin 1975 is die nuwe drag reeds in gebruik. Die veranderende wapen met nuwe leuse daarby word in gebruik geneem tydens die vyftigste bestaansjaar van die skool. Die geleentheid is gevier op 19 Februarie 1980. Die leuse: Werk en Groei. By die skoollied is betrokke: mnr. Volker, me. B Rousseau, me. C Loubser en me. D Coetzee. Op 10.11.1981 word begin om die koshuis op te gradeer en die voltooide koshuis word op 16.01.1983 in gebruik geneem. Die nuwe skoolsaal en dubbelverdieping Fase 1 klaskamers, word vanaf 05.08.1983 betrek. Tydens die Junie vakansie in 1984, word die betonblad verwyder en word daar ‘n tuin gevestig. Die amptelike ingebruikneming van die geboue vind plaas op 19.10.1984. Mnr.le Roux tree op 31.08.1993 af.
Die skoolhoof, mnr. JP Coetzee word op 01.01.1994 aangestel. Gedurende 1994 word die koshuis uitgebrei en opgeknap. Die rekenaarlokaal is gereed om op 22.07.1996 gebruik te word. Volwaardige Opedae met uitstallings word vanaf 1996 in die skoolsaal aangebied. Ander aktiwiteite soos Osbraaifunksies, Gholfdae en Moo-Poo fondsinsamelings word deel van die skool se fondsinsamelingsbedrywighede. Verskei konserte en operettes word opgevoer, soos “Silwer Sambreeltjie” in 1994 en “Petrus se Sirkus” in 2003. Lucas Meyer slaag die amptelike departementele skoolevaluering met vlieënde vaandels in 2004. Aan die einde van 2004. Word daar hard gewerk om die Gr. R klas in gereedheid te bring en op 19.01.2005 word die klas in gebruik geneem. Deurlopend in 2005 word die vyf en sewentig-jarige bestaan van Lucas Meyer Skool gevier. LMS wees is ‘n fees!
In 2010 kry die LMS’ers dit weer reg om die tagtigste verjaarsdagvieringe met oud-skoolhoof, mnr. Le Roux in swier te vier. Leerlinge maak ‘n 80 voor die Juniorfase geboue en dwarsdeur die jaar word dankbaarheid vir hierdie groot mylpaal oral gewys.
Januarie 2016 word die nuwe skoolhoof, mnr. R Kritzinger aangestel. Ons kleuterskool kry nuwe dakke, die senior fase se badkamers word oorgedoen, ons saal kry ‘n totale nuwe gesig en LMS is bevoorreg om weer ‘n skoolbussie aan te kan skaf. Hierdie bussie ry daagliks leerlinge van Paulpietersburg en omliggende area heen en weer.
Maart 2020 word ons huidige skoolhoof, mnr. P Aucamp aangestel. Ons is baie bevoorreg om die skool se 90e verjaardag op ‘n gepaste wyse te vier en kon weer mnr Le Roux en sy vrou as eregaste verwelkom. Ons was ook bevoorreg om 2 vorige “groot geeste” van Lucas Meyer te verwelkom nl. mev Annatjie Odendaal en mej. Johanna Botha wat ook ‘n waarnemende hoof van LMS in 2016 was. Hierdie is ‘n vreemde jaar (2020) met Covid19 wat ‘n groot deel van kwartaal 2 oorheers en die hele land is in “lockdown”. Skole en alle besighede sluit vir ‘n groot deel van die jaar.